Tuis / Wie ons is
Waarom Ligbron Moot?
Ligbron Moot word geplant vanuit die oortuiging dat die kerk teenwoordig moet wees waar mense woon, werk, grootword, swaarkry en hoop.

Ons naam
Christus is die bron
Ons wil ’n geloofsgemeenskap wees waar die lig van Christus duidelik sigbaar word: in die verkondiging van die evangelie, in die manier waarop mense mekaar liefhet en in die wyse waarop ons die gemeenskap dien.
Die naam Ligbron herinner ons daaraan dat die lig nie by onsself begin nie. Christus is die bron. Ons word geroep om sy lig te ontvang, daarin te leef en dit in die Moot sigbaar te maak.
Ligbron Moot is ’n kerkplant deur dieKruis Pretoria.
Ons droom vir Ligbron Moot
Ons droom van ’n gemeente waar:
- mense Jesus Christus leer ken;
- die Bybel getrou en verstaanbaar verkondig word;
- geloofsvrae eerlik bespreek kan word;
- kinders en jongmense veilig kan groei;
- mense mekaar deur elke lewensfase ondersteun;
- geloof in huise en deur die week geleef word;
- lidmate hul gawes ontdek en gebruik;
- die Moot die vrug van ’n dienende geloofsgemeenskap ervaar.
Geloofsbelydenis
Wat ons glo
Wil jy dié geloofswaarhede verder ondersoek? Ons reeks, Ons DNA: Wat ons glo, werk stap vir stap deur die kernwaarhede waarop Ligbron Moot se geloof en gemeentelike lewe gebou word.

Ons glo in een God wat Hom as Vader, Seun en Heilige Gees bekendmaak.
Ons glo dat die Bybel God se Woord is en die grondslag vorm van wat ons glo en hoe ons leef.
Ons glo dat God die Vader die Skepper en Onderhouer van alles is. Hy roep ons deur sy genade om sy kinders te wees en in gehoorsaamheid aan Hom te leef.
Ons glo dat Jesus Christus die Seun van God is. Hy het waarlik mens geword, vir ons sondes aan die kruis gesterf en liggaamlik uit die dood opgestaan. Deur Hom ontvang ons vergifnis en versoening met God. Ons glo in die opstanding van die liggaam, die wederkoms van Christus en die ewige lewe.
Ons glo in die Heilige Gees, wat Here en lewendmaker is. Hy bring mense tot geloof in Christus, woon in gelowiges, heilig en vertroos ons en rus die kerk met gawes toe. Deur die Heilige Gees word ons gelei om God se Woord te verstaan, in gehoorsaamheid te groei en as getuies van Christus te leef.
Ons glo dat redding ’n gawe van God se genade is wat ons deur geloof in Jesus Christus ontvang.
Ons glo dat die kerk die liggaam van Christus is. Gelowiges word geroep om saam te aanbid, in geloof te groei, mekaar te versorg, die evangelie te verkondig en hul naaste te dien.
Leierskap
Ons leierskap
Ligbron Moot word gelei deur ’n span wat saam verantwoordelikheid neem vir die geestelike versorging, onderrig en ontwikkeling van die gemeente.
Christian van der Walt
Henk Vorster
Kerklike verbintenis
Ligbron Moot is ’n kerkplant deur dieKruis Pretoria.